Saturday 8 June 2013

Die Volksblad Junie 2013 http://www.volksblad.com/nuus/2013-06-07-reis-saam-in-aardskip Geskryf deur Charné Kemp

Die artikel is op die Volksblad van Satterdag 8 Junie 2013.

http://www.volksblad.com/nuus/2013-06-07-reis-saam-in-aardskip

(For the English readers please Google Translate to get the gist of the article.)
http://translate.google.com/#af/en/

-o0o-----------------------------------
Reis saam in 'aardskip'

Egpaar se groen huis kan byna anker gooi

ORANIA. – Die swart ketel op die son-oond fluit buitekant en Ludwig (52) en Retha (47) Everson skink 'n bekertjie koffie. Hulle neem 'n blaaskans van die harde werk om hul "aardskip" te voltooi.

Dié aardskip is hul ekologies-vriendelike huis wat onafhanklik is van munisipale water, elektrisiteit en riolering.

Die egpaar het 'n week gelede ingetrek nadat bouwerk aan die "skip" 'n jaar gelede begin het. Hul dogter, Joanelle (21), studeer in Potchefstroom en seun, Arno (18), gaan volgende jaar studeer.

Dit is leefbaar, maar nog nie klaar nie. Daar kort nog binnemure, deure, geteëlde vloere, 'n garage en 'n gastekamer.

"Die aardskip is op verskeie konsepte gebaseer: Ons gebruik herwonne materiaal en skep 'n natuurlike klimaat. Die dik sandsakmure is 'n termiese massa wat, soos in 'n grot, die temperatuur stabiliseer. Die huis is heeltemal van die vloer tot die plafon geïsoleer. Dit kyk noord vir 'n ideale klimaat en sonwins. Ventilasie en afkoeling kom deur pype wat lug van binne af inbring. Ons wek ons eie energie op, plant groente en verwerk self ons riool," sê Everson, 'n elektroniese en sagteware-ingenieur. Retha is 'n oogkundige.

Die boumateriaal is herwonne blikke, plastiekkoeldrankbottels, kalk, skalie, strooi en so meer. Die aardskip se motorbandfondamente is in die aarde met grond geanker. Die buitemure is met sandsakke gebou. Die eerste laag pleister is 'n mengsel van grond, strooi en skalie. Die tweede laag bestaan uit 'n mengsel van riviersand, grond en kalk.

"Ek het net minder as sewe sakke sement onder die stutpale en skuifdeur gebruik. Die vloere in die badkamer en kombuis is met tweedehandse teëls geteël. Die res van die oppervlak is grondvloere wat geolie en gepolitoer word. Die gangvloere sal met leiklip uitgelê word."

Die kombuis het 'n induksie-stoofplaat, yskas, dubbelbaliewasmasjien en mikrogolfoond wat met sonkrag-energie gedryf word.

Die gesin kook met 'n sonoond en gasstoof. Later sal hulle hul eie bio-gas uit riool- en tuinafval ontwikkel.

"Buitekant het ek ses watertenks van 30 000 liter  waarin  ek reënwater van die dak opvang. Die water word vir drink en kookdoeleindes gefiltreer. Van daar gaan die gryswater na die binnenshuise groentetuin, by die noordelike glasmuur. Die water onder die groentetuin filtreer deur die plantwortels en word weer gebruik om toilette te spoel. Dié swartwater word na die septiese tenk buite geneem waar biogas opgewek gaan word. Herwonne water uit die aanleg gaan die tuin natlei."

Die egpaar het nege jaar in Nederland gebly en in 2009 teruggekeer.

"Ons het na Orania gekom, waar ons sonder burokratiese rompslomp kon bou."

Hulle bied reeds toere aan (teen 'n skenking) vir mense wat 'n aardskip wil bou.

Hulle gaan later 'n gastehuis en inligtingsentrum bedryf en kursusse aanbied.

Hulle sal binnekort weer hul beroepe beoefen sodra die grootste werk afgehandel en die aardskip sy finale ankers gegooi het.



Groete/Greeting
Ludwig, Retha & Arno

3 comments: