Sunday, 26 May 2013

Volksblad berig 16 Jan 2013 http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2013/01/16/KV/7/ktoraniaskip.html deur Jelleke Wierenga

Die artikel was in die Volksblad van 16 Jan 2013
http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2013/01/16/KV/7/ktoraniaskip.html


(For the English readers please Google Translate to get the gist of the article.)


===================================================
Huis enig in sy soort

Dié aardskip van sandsakke en afval grootste ter wêreld

deur Jelleke Wierenga

AARDSKIP, sonskip, ekohuis, modder-en-afvalhuis . . . noem dit wat jy wil, maar Ludwig en Retha Everson se droomhuis op Orania waaraan hulle al jare arbei, is enig in sy soort in Suid-Afrika.

Dit is gebou van sandsakke, ou buitebande, strooibale, koeldrankblikkies, glas- en plastiekbottels, sand, strooi, skalie, kalk en, natuurlik, baie sweet.

Ludwig dink soms hy was gek om so 'n groot projek aan te pak. Hy het vooraf baie navorsing gedoen, maar eintlik geen idee gehad van wat dit sou behels nie.

Dit het vyf maande geduur om net die sandsakke op hul plek te kry en te vul. Daar was nooit meer as vier mense op 'n slag aan die werk nie.

Sulke "aardskepe" word gewoonlik van buitebande gebou, maar omdat 'n groot aantal ou bande nie so geredelik op en om Orania beskikbaar is nie, is sandsakke ingespan. Ludwig se huis is die grootste aardskip ter wêreld wat van sandsakke gebou is.

Die binnemure bestaan uit blikkies en bottels wat met 'n mengsel van tuisgemaakte "sement" – fyngemaakte skalie, grond en strooi – toegemessel is. Bo-oor kom 'n pleisterlaag van kleigrond en sand. 'n Bietjie kalk daarby maak dit heeltemal waterdig. Die mure word later net so hard soos baksteen en konvensionele sement.

Die huis kan maande lank op 'n enkele bui reën funksioneer – hemelwater, soos Ludwig dit noem. Die dak is 'n volle 210 m² en die watertenks hou saam 30 000 liter. Elke 10 ml reën maak 'n halwe tenk vol.

Die hemelwater word deur die huis gepomp en versprei. Dit word vier keer gebruik – eerste deur die mense; dan syfer dit onderdeur die plantbakke waar dit deur die plantwortels en skalie gefiltreer word. Die water beland dan in 'n put van waar dit vir spoelwater na die toilette gepomp word. Laastens word dit vir die bome en nie-eetbare plante buite gebruik. Die menslike ontlasting gaan na die biofiltreerder buite wat die vaste- en vloeistowwe van mekaar skei. Metaangas word uit die vaste stowwe verkry en gebruik om die gasstoof aan die kook te hou. Alles wat oorbly, is kompos. In die twee lang plantbakke aan die binnekant van die massiewe dubbelvensters gaan allerlei soorte groente en vrugtebome verbou word – selfs piesangs. En hoekom nie sommer ook 'n prieel nie? Dit is kos en suurstof, lyk lieflik lowerryk en doen wondere vir die gemoed.

Die huis se klimaat word hoofsaaklik deur sy noordaansig beheer. Geen enkele sonstraal skyn in die somer in nie, maar in die yskoue winter is daar tot vyf meter behaaglike sonskyn in die vertrekke. Die agterkant van die huis is op die helling van 'n koppie ingebou . . . waar wil jy nou beter isolasie kry? 'n Dubbellaag koeldrankbottels aan die suide-, ooste- en westekant wat met lug gevul is, werk soos 'n bykomende verekombers in die winter. Somers bring dit die temperatuur met tot 5°C af.

Die son verskaf krag en warm water, maar 'n houtstoof en donkie sal regstaan ingeval die son nie skyn nie.
Terloops, Ludwig het net sewe sakkies sement in die hele massief groot huis gebruik. Dit is om die skuifdeur en die stutpilare van die vloer na die dakkappe te verstewig.

Siedaar, 'n huis sonder 'n koolstof-voetspoor wat sommer ook 'n vullishoop of twee opgeruim het.

Die Aardskip van agter.
Die Aardskip van binne.
Die Aardskip van buite. Foto's Jelleke wierenga
===================================================


Groete/Greeting
Ludwig, Retha & Arno

No comments:

Post a Comment