Sunday 2 June 2013

Die Voorblad Mei 2013 http://dievoorblad.co.za/index.php/afr/joomla-pages-iii/category-list/65-rubrieke/910-innoverende-denke-in-orania Geskryf deur Marinda Toerien

Die artikel is op die Voorblad se webwerf Mei 2013

http://dievoorblad.co.za/index.php/afr/joomla-pages-iii/category-list/65-rub
rieke/910-innoverende-denke-in-orania


(For the English readers please Google Translate to get the gist of the
article.)

===================================================
Innoverende denke in Orania

Geskryf deur Marinda Toerien

Om iets sinvol uit ou teëls, leë koeldrankbikkies en botteltjies, sandsakke,
ou buitebande en strooi te maak, moet jy nie net 'n kunstenaar wees nie,
maar ook ingenieur, entrepeneur, avontuurlustig en 'n goeie sin vir humor
hê. En dit is Ludwig Eberson en sy vrou Retha beslis. Die Voorblad het
onlangs besoek afgelê by Orania (die selfversorgende dorp in die Noord-Kaap)
en die Ebersons se aardskip-konsep gaan bekyk.

Sommer so met die aankomslag besef jy daar is fout, groot fout – niemand
laat toe dat 'n pampoenplant jou deurraam en vensters byna toerank nie. En
dan pronk daar nog sulke groot vet wit pampoene wat aan hul stele hang aan
die deurraam waardeur jy moet stap om die huis aan die binnekant te verken.

Skielik word jy deel van die Ebersons se droomhuis, ekohuis, afvalhuis waar
elke stukkie materiaal wat gebruik word om te bou, sorgvuldig geplaas word
om so deel van aardskip-projek te word. Die huis en kantoorruimte se mure is
met sandsakke gebou. Die sandsakke is opmekaar gestapel waarna dit
gepleister is met 'n mengsel van sand, strooi en skalie. Die ideaal is om ou
buitebande te gebruik, maar dar is nie genoeg in Orania nie.

Die binnemure is van koeldrankblikkies en –bottels gebou wat toegemessel is
met die sandmengsel en kalk wat sorg dat die mure waterdig en sterk is. Die
dakke is hoog en die noordkant van die huis is bedek met groot glasvensters.
In die winter strek die son tot by die agterste muur van die huis maar in
die somermaande is die huis koel.

Voor die dubbel glasvensters het Ludwig groot plantbakke ingebou waarin
groente geplant word. Die water word optimaal gebruik. Orania kry gemiddeld
300mm reën per jaar. Die water word in ses opgaartenks opgevang. Die water
word deur filters gepomp en as skoon water gebruik, dan word dit gebruik om
die plante water te gee en deur die plantwortels en skalie gefiltreer. Dan
word die water vir was- en toiletgebruik aangewend waarna dit in 'n septiese
tenk verwerk en dan uitgepomp word na bome en nie-eetbare plante.

Die krag wat die yskas, wasmasjien, rekenaar ens ontvang word deur middel
van sonkrag en batterye voorsien. Die Eberson-gesin is reeds twee jaar besig
om die huis te bou en dit nader nou vinnig die einde. Ludwig vertel sy
grootste uitdaging was die dakkappe in te bou en in te sit. Dit is gedoen
sonder 'n stelasie waarop 'n mens kan staan. So ook met die yslike vensters
en vensterrame.

Die rame is op die grond aanmekaar gesit en met 'n katrol opgehys en
dieselfde metode weer om die ruite in te sit. Alles met beperkte arbeid –
nooit meer as vier mense wat help nie. "Suid-Afrikaners moet weg beweeg van
kolonialisme en begin selfdoen,"sê die man wat met ander se afval 'n tuiste
kan skep waarvoor geen huis in Helderfontein Estate naby Dainfern hoef terug
te staan nie.

Sy konsep is so gewild dat dit van meet af 'n toeriste aantreklikheid geword
het. Selfs die ANC raadslede in Bloemfontein het kom kyk hoe die
ekovriendelike huis funksioneer en beplan om die konsep te gebruik om
HOP-huise so te vervaardig.

Foto: Ludwig Eberson in sy huis in Orania

Groete/Greeting
Ludwig, Retha & Arno

No comments:

Post a Comment