Monday 5 January 2009

Hoe het dit begin?

2009-12-31:

Tydens 'n nuwejaars gesprek praat ons by vriende oor ons toekoms, wat anders. Goeie tyd om dit te doen. Waaroor dan? Oor dat ons miskien erens in die toekoms en erens in die Karoo 'n selfonderhoudende huis wil bou.

2009-01-05:

Die eerste dag wat ek terug ry van werk hoor ek op die Nederlandse Radio Een van so 'n soort huis, wat hulle in Zwolle gebou het. Op die radio noem die man dit 'n "erssip" of was dit nou "ursh*t". Hy bedoel natuurlik 'n "earthship". Wat is 'n earthship? Van nou af aan noem ek dit 'n aardskip, want ons moet die TAAL suiwer hou mense. Dit is 'n selfonderhoudende huis of outargiese huis of soos onse vriende van Amerika sal sê "off the grid house".


Nou hier volg 'n beskrywing van so 'n huis deur my vrou:

Het hulle al ooit gehoor van die "Earthship" / "Aardskip" konsep? Gaan kyk maar op Google of YouTube, daar is nogal baie te lees. Dit is basies 'n huis wat jy (self!) bou uit afvalmateriaal - veral ou motorbande, blikkies en bottels wat in die mure in gesement word. Die motorbande word gevul met sand wat so hard vasgestamp word dat die mure so stewig word dat jy nie eers 'n fondament vir die huis nodig het nie. Jy kry dan basies "bakstene" wat met staal versterk is. Dit gee ook vreeslike dik mure wat jy aan drie kante van die huis bou en daarna weer "begrawe" onder 'n hoop sand. Die doel daarvan is temperatuur regulering.

Die voorkant van die huis is dan net vensters van bo tot onder wat skuins geplaas kan word vir maksimum sonlig in die winter maar minder direkte sonlig in die somer (dan wil jy maksimum weerkaatsing hê). Die idee is om plante in plantebakke agter die vensters te plant vir 'n kweekhuis ("hothouse") effek .

Die argitek se ideaal is dat hierdie huis selfvoorsienend sal wees deur:
- sonpanele / windlaaiers, die oorskot krag wat opgewek word, word gestoor in batterye
- reënwater op te vang vir watervoorsiening en te filtreer.

Die water word tot 4 keer gebruik deur dit weer te suiwer en hergebruik, nl. die vars water wat gebruik word in die kombuis word weer skoongemaak deur dit te filter deur die plante in die plantebakke; daarna kan jy dit weer gebruik om te bad en was; daarna spoel jy die toilet daarmee. Die toiletwater gaan na 'n septic tank toe waar dit weer met sekere prosesse skoon genoeg gemaak word sodat ('n gedeelte daarvan) tuin toe gaan waar dit
a) die tuin natmaak en
b) die plante self nog verder die besoedeling skoonmaak
- groente / vrugte kan in die plantebakke gekweek word om te eet.

So 'n Earthship kan dan ideaal gebou word sonder om aan die elektrisiteit / water / riool netwerke van die munisipaliteit aangesluit te wees. Hy behoort koel te wees in die somer en warm in die winter om energie te bespaar op verkoeling en verwarming, sodat 'n mens met minimum kragvoorsiening kan klaarkom.

Deur afvalmateriaal as boumateriaal te "recycle" is dit ook nog omgewingsvriendelik. Dit lyk miskien so 'n bietjie soos 'n plakkershut as jy dink aan die afval wat gebruik word vir boumateriaal, maar as 'n mens 'n bietjie dieper kyk is dit baie wetenskaplik. Dit gaan oor fyn berekeninge van die invalshoeke en uitvalshoeke van die son - horisontaal en vertikaal in al die seisoene van die jaar. Die hele ontwerp is gemaak vir energiebesparing en optimale energie verbruik.

... so nou weet julle ook wat dit is. Soos julle kan sien is ek en my vrou baie opgewonde oor die idee en het ons begin om ons te verdiep in die onderwerp.

Volgende keer verder oor wat ons planne is en waarom.

No comments:

Post a Comment